Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 9 MEI 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat dit aankondig moet word dat die sleutel van Joseph Rozploch, ZS2JSR, van die Suid-Kaap Amateurradioklub, in die ouderdom van 57 jaar op Saterdag 24 April weens ’n hartaanval stil geword het terwyl hy met sy hond gestap het.

SS1SKR en die SARL se innige simpatie aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

SLUIT NOU BY DIE SARL AAN EN VERKRY GRATIS LIDMAATSKAP VIR MEI EN JUNIE

SARL-RAAD SE PORTFOLIOS TOEGEKEN

SARL BIED DRIE NUWE BOUSTELLE TYDENS RTA’s AAN

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

SLUIT NOU BY DIE SARL AAN EN VERKRY GRATIS LIDMAATSKAP VIR MEI EN JUNIE

Sluit nou by die SARL aan en geniet lidmaatskap gratis vir Mei en Junie. Die ledegeld vir die 2010/2011 jaar is R360 vir gewone lede en R225 vir seniorlede. Die Algemene Jaarvergadering, wat in April in Port Elizabeth gehou is, het ’n marginale verhoging in ledegeld goedgekeur. Die nuwe tariewe is nou by www.sarl.org.za beskikbaar. ’n Beduidende verandering is die affiliasiefooie vir klubs wat verminder is na R120 per jaar. Indien u klub nognie met die SARL geaffilieer is nie, doen dit nou. Kontak Mariska by 011 675 2393 om nou aan te sluit of verkry die vorm aanlyn.

SARL-RAAD SE PORTFOLIOS TOEGEKEN

Tydens die eerste vergadering van die nuutverkose SARL-Raad, wat per telekonferensie gehou is, is portfolios en en verantwoordelikhede as volg toegeken:

Dennis Green, ZS4BS – President, HF-bestuurder, Radio ZS;
Mark Zank, ZS6YES - Visepresident, RAE en Kantoorbestuurder;
Henry Chamberlain, ZS1AAZ – Sekretaris, Forumnavrae, Digitale modusse en IARU-skakeling;
Louw Erasmus, ZS6LME – Ereregsadviseur;
Laurie Devereux, ZS5DL – Notulesekretaris en Afd. 5 Bandbeplanning;
Hans van de Groenendaal, ZS6AKV - Regulatoriese Aangeleenthede, Bemarking, WRC-12 werkgroep, Op-die-lug-aktiwiteite;
Fred Scheepers, ZS1FCS – Elmer, IARU Moniteringsdiens en IPHA (Handicapped amateurs, gestremde persone);
Ivan Newman, ZS2ILN – Lidmaatskapontwikkeling en Klubskakeling, Vise-webadministrateur;
Gerhard Coetzee, ZS3TG – Jeugaktiwiteite, Opleiding en STARS;
Francois Botha, ZS6BUU – SARL Hamnet en Kantoorlogistiek;
John Willescroft, ZS6EF – Tegnologiese Ontwikkeling;
Willem Weideman, ZS6WWJ – QSL-bestuurder;
Riaan Greef, ZS4PR – BHF/UHF en Mikrogolfbestuurder;
Frik Wolff, ZS6FZ – Herhalerdatabasis.

Aanstellings:
Rassie Erasmus, ZS1YT – Tesourier;
Tjerk Lammers, ZS6P – Toekenningsbestuurder;
Richard Seddon, ZS2CLI – Webmeester;
George Honiball, ZS6NE – SARLNUUS en Vertalings;
Geoff Levey, ZS6GRL – Kompetisiebestuurder;
Derek Gravett, ZS5Y – BHF/UHF-kompetisies.

WAS U BETROKKE BY DIE SARL SE AKTIWITEITE IN DUFFWEG?

Ray Webber, ZS6RSW, organiseer ’n informele samekoms van radioamateurs wat betrokke was by die Johannesburgtak en die Duffwegklubhuis. Dit sal geskied om 12:30 op Vrydag 21 Mei in Nino’s in San Ridge Square in Midrand. Dit is ’n ope uitnodiging. Elkeen betaal vir homself. Kom sluit aan en haal herinnerings op aangaande die goeie tye in die “807”. Stuur asb. u besonderhede per e-pos aan RWebber@fnb.co.za.

SARL BIED DRIE NUWE BOUSTELLE TYDENS RTA’s AAN

Die eerste simposium in die reeks Radiotegnologie-in-Aksie sal op Saterdag 29 Mei 2010 in Durbankampus van die Universiteit van KwaZulu-Natal plaasvind.

Die program sluit opwindende aanbiedings en besprekings in. Vanjaar sal drie boustelle tydens die RTA’s beskikbaar gestel word. Die boustelle sal slegs beskikbaar wees vir persone wat die RTA’s bywoon. Hulle mag vooraf bestel word en aanlyn voor betaal word of dit mag ook tydens die werklike byeenkoms gedoen word.

Dit is vanjaar ook moontlik om vooraf plek te bespreek en die RTA-registrasiefooi aanlyn te betaal. Die koste is R50 wat ’n ligte middagete en inskrywing vir ’n gelukstrekking insluit. Dit sal steeds moontlik wees om by die deur te bespreek.

Registrasie vir die Durbanse RTA sal op Maandag open. Verkry volle besonderhede vanaf www.sarl.org.za, kies RTA en volg die koppelings soos aangedui.

Die drie boustelle wat aangebied word, is:

DVSS-boustel: 100 mW in die 40 m-band.
Twee Direkte Volgorde Spreispektrum sendontvangers, gebou in oop formaat op gedrukte bord as studiemateriaal vir DVSS. Alle seksies van elke sender en ontvanger kan nagevors en getoets word met die gebruik van eenvoudige toerusting wat in elke hok beskikbaar is. ’n CD met bou- en bedryfsinstruksies word voorsien, maar geen kabels nie, teen ’n koste van R350.

TDR, Tyddomein Reflektometrie 1 GHz Monsteringossiloskoop.
Spesifiek ontwerp vir TDR-werking, maar kan vir ander toepassings gebruik word. Dit is ’n USB-toestel wat by ’n rekenaar ingeprop kan word en gebruik ’n Windowsprogram en vertoon ’n beeld soos ’n normale ossilloskoop. ’n CD met bou- en bedryfsinstruksies word voorsien, maar geen kabels nie, teen ’n koste van R350.

DSP-boustel: Digitale Seinprosseringboustel vir ’n luidspreker.
Vir die gebruik na die luidsprekeruitgang van enige toestel om geraas te verminder of te elimineer. Dit is ideaal vir HF-ontvangers. Dit word gebou in oop formaat op gedrukte bord en is ideaal as studiemateriaal vir DSP. ’n CD met bou- en bedryfsinstruksies word voorsien, maar geen kabels nie, teen ’n koste van R325. Hierdie projek word volledig as ’n tegniese aanbieding by die RTA toegelig.

SPESIALE STASIE - ZS85SARL

Op die 20ste Mei 1925 is die SARL in Kaapstad gestig. Om hierdie 85ste herdenking van die stigting van die SARL in Kaapstad te vier gaan 'n groep amateurs op Saterdag 22 Mei 2010 'n stasie met die verjaardagroepsein ZS85SARL vanuit Kaapstad bedryf. Die stasie sal op 80 m, 40 m en 20 m bedien word vanaf 08:00 SAT tot 20:00 SAT.

Die hoofoogmerk van die stasie gaan wees om 'n WAZS binne 12 uur te verwerf.

'n Spesiale QSL-kaart sal vir hierdie geleentheid gedruk word. SARL-lede sal die QSL-kaart gratis deur die buro ontvang. Nie-SARL-lede sal 'n gefrankeerde koevert moet voorsien om die posgeld te dek.

Die stasie gaan uitsaai vanaf die Lugmagbasis Ysterplaat. Vanaf 11:00 sal braaivleisvure beskikbaar wees vir besoekers wat die verjaardag saam wil kom vier en die spesiale roepsein wil bedien.

NASIONALE RAE-KANDIDATELYS EN EKSAMENNOMMERS SPOEDIG GEPUBLISEER

Die SARL sal aan die einde van hierdie naweek, 09 Mei, al die betrokke eksamennommers sowel as ’n lys van eksamensentrums publiseer. Hou die SARL se webblad dop vir besonderhede.

Briewe met eksamenbesonderhede sal aan elke kandidaat gestuur word. Elke kandidaat word versoek om sy besonderhede deeglik na te gaan en Mariska in die SARL-kantoor te kontak indien inligting foutief is.

RaDAR-KOMPETISIE - KATEGORIEPUNTETELLINGS

Meer as 100 individuele stasies is aangeteken gedurende die April 2010 RaDAR-kompetisie. Die meeste stasies het vir die pret deelgeneem. ’n Aantal lede van die Potchefstroomklub het individueel deelgeneem maar dieselfde fasiliteite gedeel. Hulle word gelukgewens met hulle mooi klubgees. Uit die logs wat tot dusvêr ontvang is, is die volgende kategoriepunte toegeken:

Tuisstasies met gebruik van hul normale antennas en hoofkragtoevoer.
Theunis, ZS2EC/3 (QRP) - 43
Derek, ZS2J (QRP) - 20
Francois, ZS6BUU – 5.

Tuisstasies wat nie nie hul normale antennas en hoofkragtoevoer gebruik nie.
Geen.

Mobiele bedryf sonder hoofkragtoevoer.
Andries, ZS6VL - 174
Pierre, ZS6BB (QRP) - 117
Coenie, ZS6PCO - 33
Carl, ZS6CFW - 21
Nico, ZS6NVR - 21
Kevin, ZS6KMD (QRP) - 15
Mike, ZS6MEG – 6.

Werklike RaDAR draagbare stasies sonder gebruik van normale antennas en hoofkragtoevoer.

Tienie, ZS6MHH – 124.

Werklike RaDAR draagbare stasies soos hierbo maar met gebruik van QRP met uitsetkrag beperk tot 5 W KOV.
Eddie, ZS6BNE (QRP) - 250
Christo, ZR6LJK (QRP) - 210
Allen, ZR1AAH (QRP) - 105
John, ZS5J (QRP) – 45.

Kontrolelog.
Geoff, ZS6GRL.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Die reeks sonvleklose dae is gelukkig agter die rug en sonvlekke 1 069 en 1 070 doen tans hulle ding vir die ionosfeer. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 20 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 17 en 20 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en die aande gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Ook gaan kontakte met die VSA uitdagend wees. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m is baie bruikbaar gedurende die dag en goeie kontakte kan oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse. Met die seisoensverandering is die geraasvlakke ook besig om te daal. 160 m behoort ook binnekort goeie kontakte op te lewer.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
9 Mei – Antieke Draadloosvereniging se Buis QSO-geselligheid;
16 Mei – SARL se 85ste Herdenkingsnaelloop, 12:00-15:00 UTC;
21 Mei – ZS6RSW en oud-Duffweggers se byeenkoms om 12:30 by Nino’s;
22 Mei – Spesiale stasie ZS85SARL vanaf Ysterplaat op die lug;
29 Mei - RTA-simposium in Durban;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek;
18 September - RTA-simposium in Gauteng;
30 September – sluitingsdatum vir fase 1 van die innovasieprojek.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n bulletin wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.
Dankie dat u saamgeluister het.

73, tot volgende Sondag.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003